Stap in Magoebaskloof

Magoebaskloof is een van Suid-Afrika se mooiste dele en tog is daar min mense wat werklik weet wat dit het om te bied. ‘n Onlangse staproete het my liefde vir die area opnuut weer laat blom.

Die Magoebaskloof Staproete is ‘n sirkelroete van 60 km wat oor 5 dae gestap kan word. Inheemse woude, bergstrome en plantasies maak van die roete een vir die boeke. Jy kan ook kies hoe ver jy wil stap, met opsies van 2-dag roetes tot 5-dag roetes.

Wat kan jy hier sien?

Die huilklip, ‘n natuurlike rots wat soos ‘n gong klink wanneer dit met ‘n ander klip gekap word, is een van die bekende en gunsteling besienswaardighede op die roete. Net so is die dierespesies wat jy op die roete kan gewaar, baie indrukwekkend. Van samango ape, bosbokke en bosvarke tot ‘n wye verskeidenheid voëlspesies – veral in die Grootbosch Woud. Kyk ook uit vir die hoogste geplante boom ter wêreld.

Wenke:

  • Maak seker dat jy die Dokolewa poele en die Waterval Hut by jou roete insluit. Dit is twee van die mooiste dele van die roete en jy sal spyt wees as jy dit mis.
  • Die 2-dag roete is ideaal vir ‘n familie wat graag die woud wil verken. Die 5-dag roete is meer gevorderd en jy moet redelik fiks wees om hom aan te pak.

Wat om te pak:

  • ‘n Hoed is ‘n moet
  • Oordentelike stapskoene – Ek het my hi-tecs van Cape Union Mart gedra en hulle het perfek gewerk.
  • Dik kouse
  • ‘n Waterdigte baadjie – Dit raak soms mistig en mag selfs reën.
  • Ekstra klere.
  • Kos
  • ‘n Gasstofie met genoeg gas, vuurhoutjies en ‘n potjie waarin jy water kan kook.
  • Plastiekborde, bamboo eetgerei, eko-vriendelike papierservette en ‘n beker.
  • Die nodigste items vir noodhulp – Verbande, pleisters, Detol, ens.
  • Voorgeskrewe medikasie, maar ook medisyne vir allergieë, hoofpyn en naarheid.
  • ‘n Multifunksionele instrument, soos ‘n Leatherman van Awesome Tools.
  • Sonbrandroom en ‘n sonbril. Hoewel die meeste van die roete onder digte woude is, is daar wel dele waar die son jou kop warm sal brand.
  • Slaapsak en kussing.
  • Water
  • ‘n Koplig – Trappers het ‘n wye verskeidenheid waaruit jy kan kies.
  • ‘n Pak kaarte – soms kom ‘n mens vroeër by die slaapplek aan en dan wil ‘n mens bietjie speletjies speel en ontspan.
  • Indien jy kontaklense dra, kyk uit vir Dischem se oulike reispakkies met kleiner botteltjies kontaklens skoonmaakmiddel. Ek gebruik altyd die Bausch & Lomb Boston Multi-Action Solution, wat ‘n spesiale vlugpakkie is. Dit sluit selfs ‘n Zip-Lock sakkie in, wat handig te pas sal kom. Dischem het ook baie oulike ander reis items soos kleiner botteltjies sjampoe, stortseep, handeroom en meer.
  • ‘n Buff is altyd ‘n goeie item om byderhand te hê. Soms is die oggende maar nog koel. Kies jou gunsteling buff op Adventure Inc.
  • Gemaklike plakkies of sagte skoene vir wanneer jy jou stapskoene uittrek. Gewone inglip plakkies soos Cotton On se thongs, sal die ding doen.
  • ‘n Rol toiletpapier
  • ‘n Swartsak of twee
  • Jou kamera. Verkieslik iets wat lig is om te dra. ‘n GoPro is ideaal – probeer bietjie die GoPro HERO Black 5.
  • ‘n Handoek en ‘n lappie wat vinnig kan droog word.
  • ‘n Kaart van die roete
  • Twee planne van die roete – een wat jy by ‘n vriend los en ‘n ander wat jy in jou motor los.
  • Insekweerder

Vir meer inligting oor die Magoebaskloof staproete, kontak: ecotour@klf.co.za of 013 754 2724

Geskryf deur: Renate Engelbrecht

Foto krediet: Alicia Maree

Leave a comment